Wys tans plasings met die etiket geletterdheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket geletterdheid. Wys alle plasings

Dinsdag 08 September 2015

Aktiwiteite vir die -rm klank

Ons het vandag groot pret gehad toe ons die -rm klankie aangeleer het. Die leerders het elkeen 'n aktiwiteit gehad en het dit dan na afloop van 'n paar minute geruil met 'n maat. Aan die einde van die les het elke leerder kans gehad om elke aktiwiteit te doen.

WENK: As 'n mens jou aktiwiteite en speletjies laat ruil, hoef jy nie so baie apparaat te maak nie!
Ek het byvoorbeeld 28 in my klas. In plaas daarvan dat 'n mens 28 van die aktiwiteite moet print, lamineer, uitknip en plak, doen ek net 7 per aktiwiteit wat dan geruil word. Dit spaar ons tyd en geld. Alles wat 'n onnie so min van het ;)

Aktiwiteit 1:






In hierdie aktiwiteit kry leerders die geleentheid om die -rm klanke tussen ander klanke uit te soek. Hulle pak dit dan in die oop spasies op die bladsy om die wurm na sy appel te neem.
'n Alternatief is dat die leerders die woorde in die oop spasies skryf met 'n witbordjiepen.

Jy kan die aktiwiteit HIER aflaai vir jou klas.



Aktiwiteit 2:


Hierdie aktiwiteit is 'n lekker speletjie waar leerders die wiel draai en dan die prentjie wat met die woord ooreenstem met iets bedek totdat hulle al die prentjies bedek het.

Ek het die wielletjie gemaak deur 'n ou CD houer en ou CD te gebruik. Mens kan ook een van daai kassies waarin skoon CD's kom gebruik (soos op foto hieronder). Ek het die woorde uitgeprint en dit dan uitgeknip en dit bo-op die CD geplak. Dan moet mens net 'n driehoekie uitknip en iewers op die CD kassie plak vir die "woord aanwyser". 



WENK: 'n ander alternatief vir die CD houer en CD is om bloot 'n skuifspeld (paperclip) te neem en 'n potlood in die middel te druk en die skuifspeld om jou potlood te laat draai as wysertjie.

 Jy kan die aktiwiteit HIER aflaai vir jou klas.


Aktiwiteit 3:


Die leerders kry hier die geleentheid om die klankies te klank en die woorde te bou wat die prente voorstel. Hulle maak gebruik van slootjiesakkies om alles bymekaar te hou. 

WENK: Slootjiesakkies werk WONDERS in die Grondslagfase. Nie net kan die leerders daarvan gebruik maak nie maar as mens 'n A3 een het kan dit net so handig te pas kom vir die onderwyser. Wanneer sy byvoorbeeld al die -rm woorde (flitskaarte) voor op die bord moet plak met wondergom vat dit 'n ewigheid! Met 'n A3 slootjiesakkie kan sy net die flitskaarte in die slootjie glip en dit is duidelik sigbaar vir al die leerders en kan hulle self die woorde in die klas soek en dit vinnig in die sakkie kom sit.

Opsoek na iemand wat hierdie slootjiesakkies maak? Stuur gerus 'n e-pos na dieafrikaanseonnie@gmail.com.

Jy kan die aktiwiteit HIER aflaai vir jou klas.


Aktiwiteit 4: 

Laastens kry leerders die geleentheid om aan 'n paar sinne te dink met die klanke. Omdat die bladsy gelamineer is kan hulle met 'n witbordjiepen daarop skryf wat bietjie 'n afwyking is van sinne in die werkboek skryf, en dit beteken dat jy dit oor en oor kan gebruik.

WENK: Print hierdie werk op dikker papier(160gsm). Die bordjies maak makliker skoon as dit dikker is en hou ook langer.

Jy kan die aktiwiteit HIER aflaai vir jou klas.

Geniet die aktiwiteite saam met die leerders!

Maandag 07 September 2015

'n Skryfles oor Beroepe



Kreatiewe skryf sit nie in elke kind se broek nie. Het jy al ooit net 'n idee genoem of 'n prent uitgedeel en van jou leerders verwag om 10 sinne daaroor te skryf? Het jy spogstukke verwag en dit nie gekry nie?

Welkom!

Skryf is 'n ingewikkelde proses en alhoewel dit vir ons vanselfsprekend kom, het leerders die volgende van onderwysers en ouers nodig:

1.     jou leiding en fasilitering van hul gedagtegang,
2.     jou hulp met nuwe woordeskat,
3.     jou leiding met die struktuur van 'n skryfstuk.
4.     motivering vir waarom hulle moet skryf.

Ons kan nie spogstukke verwag as ons nie hierdie dinge aan ons leerders gee nie....

Ons het vandag bietjie oor "wat ek eendag wil word" geskryf.
Die gesprekke vir die laaste twee weke was rondom verskillende beroepe. Ons het so baie beroepsname opgenoem. Die groot ding wat ek wel agter gekom het ons minder aanspreek is:

1.    waar hierdie mense werk,
2.    vir wie hulle help,
3.    wat hulle doen,
4.    hoekom hulle dit doen.

Ek het vir elke leerder 'n kaartjie uitgedeel waarop hulle 'n mannetjie moes teken. Hulle moes dan oor die volgende dinge dink en met 'n maatjie deel. Dan moes hulle dit soos volg skryf:

1.   Bo die kop: WIE wil jy eendag word?
2.   Op die bors: WAT doen daardie persoon?
3:   Op die een arm: VIR WIE doen hy dit?
4:   Op die ander arm: WAAR doen hy dit?
5:   Op die een been: HOE doen hy dit?
6:   Op die ander been: HOEKOM doen hy dit?



Nadat hulle hul idees neergeskryf het en die mannetjie versier het, kon hulle my roep dat ek kyk of hulle hul idees reg gespel het en of hulle die vrae reg verstaan het.
Ons het dan op die agterkant van die bladsy daardie idees in langer sinne oorgesit. Omdat hulle idees reeds geredigeer is kon hulle skryfstukke soveel beter wees.

Sodra almal klaar was, kon elke ry 'n "beroepe toring" bou. Dit was motivering vir die skryfproses en ek het sommer vir hulle vertel dat ons almal se beroepe bou op mekaar. Ons kan nie sonder die een of die ander klaar kom in die lewe nie.



Hulle het ook geleentheid gehad om na ander maats se werk te kyk en sodoende leer hulle ook by mekaar.

Wat VOOR die skryfstuk plaasvind is MEER BELANGRIK as die eintlike skryfstuk!

Lekker skryf!

Vrydag 12 Junie 2015

Wat is Geletterdheid?


Taal is die sisteem wat gebruik word om boodskappe oor te dra. Om daardie taal oor te sit in simbole, om dit verbaal uit te druk en om dit te verstaan word dus gesien as geletterdheid.
Geletterdheid kan wel nie beperk word tot die funksionele toepassing van 'n groep vaardighede nie. Dit behels ook kennis en begrip van die impak van geletterdheid op die individu en die breër samelewing asook die vermoë om daaroor te reflekteer en te kritiseer.




Hoekom is taal en geletterdheid onderrig so belangrik?

1. Taal laat mens toe om jou gedagtes verbaal uit te druk.
2. Geletterdheid laat mens toe om jouself gesproke en geskrewe meer duideliker uit te druk.
3. Dit laat leerders toe om betrokke te raak by klas besprekings wat hulle kognitiewe denke verder ontwikkel.
4. Hoe beter 'n leerder se geletterdheid, hoe moontliker vir die leerder om meer te leer en te ontwikkel in alle leerareas.
5. Goeie geletterdheid bevorder leerders se selfvertroue in alle aspekte.

Taalvaardighede wat betrokke is by effektiewe geletterdheidsontwikkeling:

1. Luister 
2. Praat
3. Redeneer
4. Dink
5. Klankleer
6. Woordbou
7.Handskrif
8.Kreatiewe skryf
9.Taalstruktuur en gebruik
10. Lees

Daar is vier stadiums van Geletterdheidontwikkeling:

1. Ontluikende Geletterdheid (Gr. R)
2. Aanvangsgeletterdheid (Gr.1)
3. Transisie-stadium (Gr.2)
4. Vaardigheid-stadium (Gr.3)

In die Grondslagfase is dit die doel van onderwysers om leerders van die ontluikende stadium na die vaardigheid-stadium te neem. Na Graad 3 begin leerders met meer ingewikkelde onderrig en dit is dus noodsaaklik dat leerders die vaardigheid-stadium teen die einde van graad 3 bereik. Dit voorsien leerders met 'n stewige geletterdheidsfondament waarop hulle dan verder kan bou. Hoe stewiger daardie fondament, hoe beter kan die leerder vorder in sy skoolloopbaan.


Dis daarom dus dat hierdie blad oor alles gaan handel wat gebruik kan word om geletterdheid te bevorder in die grondslagfase en dit ook makliker te maak vir Afrikaanse ouers en onderwysers.