Dinsdag 06 Oktober 2015

Laaste Dag van Proef

'n Mens is altyd maar gevul met 'n bol gemengde gevoelens wanneer die kwartaal se proef tot 'n einde kom. Elke leerder het op sy eie manier in jou hart gekruip.

Dan is daar die groot vraag:"Hoe sê mens dankie?" 

Baie van ons wonder miskien, "hoe sê mens dankie VIR WAT!? Dis ONS wat die harde werk gedoen het! ONS het al die afrolwerk gedoen, die rondhardloop, die punte invoer, die lesse aanbied, die takies waarvoor niemand kans sien nie, die netbal afrigting, die ekstra klasse na skool...ek kan nog ver aangaan. Ons weet ons het hard gewerk! Hulle moet vir ONS dankie sê.

Maar glo my. Diamante word nie gevorm sonder druk nie en hulle ontstaan nie sommer net so nie. Ons moet dankbaar wees vir elke geleentheid wat daar vir ons gebied word om te leer, te groei en te ontwikkel as professionele volwassenes.

En dink nou net jy het 'n klas eendag. Jou klas is uitgelê en word beplan en bestuur volgens jou smaak. Dan word daar 'n student by jou geplaas en alles wat jy doen word eweskielik gedeel deur 'n ander persoon. Jy het eweskielik baie meer administrasie en daar word baie meer verantwoordelikheid op jou geplaas. 
Dit is nie ons as studente se reg om in iemand se klas te wees nie, maar 'n bitter groot voorreg.

Eerstens wil 'n mens vir jou mentor onderwyser dankie sê vir die voorreg dat jy in haar klas kon proef en vir alles wat jy daar kon leer en ervaar. Jy het saam met haar ondervind wat sy deurgaan elke dag. Wat beter as 'n onderwysers-oorlewingskissie om haar deur elke dag te help?
Kyk gerus na al die verskillende idees omtrent 'n oorlewingskissie vir jou onderwyser.
Onderwyser-oorlewingskissie idees

Ek het 'n krokodil-koek gebak en omdat dit altyd so 'n missie is om 'n koek te sny en uit te deel, het ek sommer die koek met kolwyntjies uitgelê.

Hier is die resep!


Ou Krokkie
van "Hello Cupcake" - Karen Tack & Alan Richardson


Benodighede:

Vir die koek:
24 vanilla kolwyntjies in wit papier koppies. (Klik hier vir 'n vanilla kolwyntjie resep)

Vir die Versiersuiker:
-500 g botter
-700 g versiersuiker
-Vanilla essence
-1t melk
- druppel groen voedselkleursel (hang af hoe groen jy dit wil hê)

Vir die versierings :
12 Jellie-beans
‘n sakkie dun bak sjokolade wat maklik gesny en breek kan word
6 marshmellows
Paar zip-lock sakkies of gewone plastiek sakkies

Om te vervoer:
Groot reghoekige skinkbord/koekbord

Hoe om die skubbe te versier:
Sit ‘n eetlepel van die viersiersuiker in die sakkie en rol bokant toe sodat al die lug uit is. Sny die een hoek van die sakke af sodat daar ‘n klein opening is. Hou die kolwyntjie in die een hand vas en die sak versiersuiker in die ander hand. Begin op die een punt van die kolwyntjie. Sit die punt van die sakkie op die kolwyntjie neer, druk ‘n bietjie versiersuiker uit en trek dit effens na jou toe. Stoot dit terug na die punt waar jy begin het met die sakkie sonder om die sakkie op te lig. Druk nou weer versiersuiker uit en trek weer na jou toe. Stoot dit weer terug en herhaal totdat jy by die einde van die ry kom. Begin dan die hele proses weer langsaan die ry skubbe wat jy nou gedruk en stoot het totdat die hele kolwyntjie vol “skubbe” is.

Kyk na die foto's om die krokodil te bou en te versier:




Tweedens wil jy ook vir die klas dankie sê en vir hulle wys hoe baie jy hulle gaan mis en hulle ook op 'n manier aanmoedig om 'n liefde vir leer te koester.
Wat beter as 'n heerlike kolwyntjie en 'n "funky" boekmerkie waarop daar iets aanmoedigends geskryf staan.

Hier is 'n paar idees vir die boekmerkies wat ek gemaak het vir die leerders. Hulle word om die hoek van 'n bladsy gesteek.
Tierkat

Varkie

Hassie-hop

Mexican

Verkleurmannetjie
Muis

Mnr. Haai
Paddapoot

Kyk hier hoe om dit te vou. Die versierings hang alles van jouself af en daar is so baie idees!



Op die ou end is dit heerlik pret om dankie te sê en dit maak die hele ervaring net soveel ryker, een wat jy nie sommer sal vergeet nie - en glo my, jy raak 'n juffrou wie die kinders ook nie sommer sal vergeet nie!

Geniet dit om dankie te sê!

Dinsdag 08 September 2015

Aktiwiteite vir die -rm klank

Ons het vandag groot pret gehad toe ons die -rm klankie aangeleer het. Die leerders het elkeen 'n aktiwiteit gehad en het dit dan na afloop van 'n paar minute geruil met 'n maat. Aan die einde van die les het elke leerder kans gehad om elke aktiwiteit te doen.

WENK: As 'n mens jou aktiwiteite en speletjies laat ruil, hoef jy nie so baie apparaat te maak nie!
Ek het byvoorbeeld 28 in my klas. In plaas daarvan dat 'n mens 28 van die aktiwiteite moet print, lamineer, uitknip en plak, doen ek net 7 per aktiwiteit wat dan geruil word. Dit spaar ons tyd en geld. Alles wat 'n onnie so min van het ;)

Aktiwiteit 1:






In hierdie aktiwiteit kry leerders die geleentheid om die -rm klanke tussen ander klanke uit te soek. Hulle pak dit dan in die oop spasies op die bladsy om die wurm na sy appel te neem.
'n Alternatief is dat die leerders die woorde in die oop spasies skryf met 'n witbordjiepen.

Jy kan die aktiwiteit HIER aflaai vir jou klas.



Aktiwiteit 2:


Hierdie aktiwiteit is 'n lekker speletjie waar leerders die wiel draai en dan die prentjie wat met die woord ooreenstem met iets bedek totdat hulle al die prentjies bedek het.

Ek het die wielletjie gemaak deur 'n ou CD houer en ou CD te gebruik. Mens kan ook een van daai kassies waarin skoon CD's kom gebruik (soos op foto hieronder). Ek het die woorde uitgeprint en dit dan uitgeknip en dit bo-op die CD geplak. Dan moet mens net 'n driehoekie uitknip en iewers op die CD kassie plak vir die "woord aanwyser". 



WENK: 'n ander alternatief vir die CD houer en CD is om bloot 'n skuifspeld (paperclip) te neem en 'n potlood in die middel te druk en die skuifspeld om jou potlood te laat draai as wysertjie.

 Jy kan die aktiwiteit HIER aflaai vir jou klas.


Aktiwiteit 3:


Die leerders kry hier die geleentheid om die klankies te klank en die woorde te bou wat die prente voorstel. Hulle maak gebruik van slootjiesakkies om alles bymekaar te hou. 

WENK: Slootjiesakkies werk WONDERS in die Grondslagfase. Nie net kan die leerders daarvan gebruik maak nie maar as mens 'n A3 een het kan dit net so handig te pas kom vir die onderwyser. Wanneer sy byvoorbeeld al die -rm woorde (flitskaarte) voor op die bord moet plak met wondergom vat dit 'n ewigheid! Met 'n A3 slootjiesakkie kan sy net die flitskaarte in die slootjie glip en dit is duidelik sigbaar vir al die leerders en kan hulle self die woorde in die klas soek en dit vinnig in die sakkie kom sit.

Opsoek na iemand wat hierdie slootjiesakkies maak? Stuur gerus 'n e-pos na dieafrikaanseonnie@gmail.com.

Jy kan die aktiwiteit HIER aflaai vir jou klas.


Aktiwiteit 4: 

Laastens kry leerders die geleentheid om aan 'n paar sinne te dink met die klanke. Omdat die bladsy gelamineer is kan hulle met 'n witbordjiepen daarop skryf wat bietjie 'n afwyking is van sinne in die werkboek skryf, en dit beteken dat jy dit oor en oor kan gebruik.

WENK: Print hierdie werk op dikker papier(160gsm). Die bordjies maak makliker skoon as dit dikker is en hou ook langer.

Jy kan die aktiwiteit HIER aflaai vir jou klas.

Geniet die aktiwiteite saam met die leerders!

Maandag 07 September 2015

'n Skryfles oor Beroepe



Kreatiewe skryf sit nie in elke kind se broek nie. Het jy al ooit net 'n idee genoem of 'n prent uitgedeel en van jou leerders verwag om 10 sinne daaroor te skryf? Het jy spogstukke verwag en dit nie gekry nie?

Welkom!

Skryf is 'n ingewikkelde proses en alhoewel dit vir ons vanselfsprekend kom, het leerders die volgende van onderwysers en ouers nodig:

1.     jou leiding en fasilitering van hul gedagtegang,
2.     jou hulp met nuwe woordeskat,
3.     jou leiding met die struktuur van 'n skryfstuk.
4.     motivering vir waarom hulle moet skryf.

Ons kan nie spogstukke verwag as ons nie hierdie dinge aan ons leerders gee nie....

Ons het vandag bietjie oor "wat ek eendag wil word" geskryf.
Die gesprekke vir die laaste twee weke was rondom verskillende beroepe. Ons het so baie beroepsname opgenoem. Die groot ding wat ek wel agter gekom het ons minder aanspreek is:

1.    waar hierdie mense werk,
2.    vir wie hulle help,
3.    wat hulle doen,
4.    hoekom hulle dit doen.

Ek het vir elke leerder 'n kaartjie uitgedeel waarop hulle 'n mannetjie moes teken. Hulle moes dan oor die volgende dinge dink en met 'n maatjie deel. Dan moes hulle dit soos volg skryf:

1.   Bo die kop: WIE wil jy eendag word?
2.   Op die bors: WAT doen daardie persoon?
3:   Op die een arm: VIR WIE doen hy dit?
4:   Op die ander arm: WAAR doen hy dit?
5:   Op die een been: HOE doen hy dit?
6:   Op die ander been: HOEKOM doen hy dit?



Nadat hulle hul idees neergeskryf het en die mannetjie versier het, kon hulle my roep dat ek kyk of hulle hul idees reg gespel het en of hulle die vrae reg verstaan het.
Ons het dan op die agterkant van die bladsy daardie idees in langer sinne oorgesit. Omdat hulle idees reeds geredigeer is kon hulle skryfstukke soveel beter wees.

Sodra almal klaar was, kon elke ry 'n "beroepe toring" bou. Dit was motivering vir die skryfproses en ek het sommer vir hulle vertel dat ons almal se beroepe bou op mekaar. Ons kan nie sonder die een of die ander klaar kom in die lewe nie.



Hulle het ook geleentheid gehad om na ander maats se werk te kyk en sodoende leer hulle ook by mekaar.

Wat VOOR die skryfstuk plaasvind is MEER BELANGRIK as die eintlike skryfstuk!

Lekker skryf!

Dinsdag 01 September 2015

"Call-Response" van WBT

Is jy moeg daarvoor om voor in die klas te staan en te sukkel om die leerders se aandag te kry sodat jy instruksies kan deurgee? Wens jy daar was 'n manier wat jy een keer kon praat en almal stop waarmee hul besig is, bly stil en luister vir jou?....lees dan verder...

Ek het nog nooit so vinnig almal se aandag en deelname gehad soos toe ek "Whole Brain Teaching"(WBT) uitprobeer het nie. Die "Call-response" aspek daarvan werk absoluut soos 'n bom, of altans, dit het soos 'n bom gewerk vir die eerste week....en soos alle dinge maar, sy effektiwiteit met tyd verloor.

Ek het gaan dink waarom dit gebeur en het toe met die volgende opgekom:

1.   "Call-Response" is ‘n klaskamer kultuur.

Dit is nie iets wat jy net elke nou en dan kan gebruik nie. Dit moet ‘n klaskamer kultuur word. Dit moet heeltyd toegepas word in elke aspek van die dag en dit moet geoefen en geoefen word todat dit soos tweede natuur vir beide jou en jou leerders raak. As jy dit nie gereeld toepas nie, gaan leerders nie reageer soos jy hoop nie.


2.  Jy moet ‘n aksie gee vir jou “call-response”
Dikwels het ek geroep en hulle het geantwoord maar dan net aangegaan met hul werk of aangehou gesels. Daar moet ‘n aksie wees wat hulle met die antwoord moet uitvoer wat uiteindelik hul arms gevou laat, hul oë op jou en hul monde toe sodat jy hul aandag het en met hulle kan praat.

3. Jy moet jou “call-response” afwissel.
My leerders het moeg geraak vir Klas-juf. Al het hulle dit goed gebruik het dit al hoe minder effektief geraak omdat dit so eentonig is.


Hier is ‘n paar oulike “call-response” idees vir afwisseling:

Onderwyser
Leerders
Klas ..
(sê in verskillende stemtoon en wissel hoeveelheid af bv. Klas, klas – juf, juf)
Juf?
Scooby dooby doo..
where are you?
Oh me..
Oh my!
No bees, no honey..
No work, no money!
Hocus pocus..
Time to focus!
Macaroni and cheese..
Everybody freeze!
One, two, three all eyes on me..
One, two all eyes on you!
To infinity....
And beyond!
Hoekom is on shier?...
Om te lag, om te leer, om te luister!
Hakuna…
Matata !
Zip, zip, zap..
We’re all that !
Hands on top…
Everybody stop !
Can I get a….
Whoop, whoop !
Are you ready kids ?..
Aye, aye captain !
En ‘n stilte val oor die klas..
Aaaa-shhhhhhh !!!!
Wwwdot..
Zip it dot com !
All set ?..
You bet !
Ba, da, ba, pa, pa…
(McDonalds tune)
I’m loving it !
Good, better,
Never let it,
Until your good is,
And your better is....
..Best
..Rest
..Better
..The best!
Eenu meeny ...
Miny mo!
Zip it, lock it...
Put it in your pocket.
Shark bait
(finding Nemo haaie)
Oooh ha ha!
Are you focused?
Yes, we are!
Hier kiep kiep, daar kiep kiep...
Woerts in die hoekie!
Hier en daar ‘n maande lank
Hoor ons steeds die paddas kwaak, kwaaaaaaak !
Oom Jan sny koring op die land..
Dis geel en lyk soos goud!
Wielie wielie...
Walie !
Oom Olifant..
Ha ! Ha ! Ha ! Ha !
Hop sa sa, tra la la la...
Rondtomtalie siembamba !
Hoe ry die boere
Sit sit so !

Nog 'n ding wat vir my as onderwyser moeilik was, is om deur al die gewoel nogsteeds al die verskillende roep-goed te onthou. As jy dit nie kan onthou nie, gaan jy simpel voel en dit nie gereeld toepas nie, of jy gaan heeltyd dieselfde ding oproep in dieselfde stemtoon wat dan maar lei na dieselfde probleme.

So HOE gaan ek al die goed onthou?
Skryf aan die begin al die verskillende "call-response" maniere op roomysstokkies en sit dit in 'n houer. Wanneer dit tyd is om die kinders tot aandag te roep, trek 'n stokkie en roep dan wat daarop staan.
So kan jy heeltyd afwissel en vergeet jy nie van al die verskillende maniere om jou klas tot aandag te roep nie en sal jy later self onafhanklik raak van die roomysstokkies en meer voorbereid daarvoor.



Woensdag 22 Julie 2015

Dag 1 van "Whole Brain Teaching"

Aah... die opwinding van ‘n student wees met finalejaar proef!

Daar is soveel voordele! Dit is die perfekte plek om al jou nuwe teoretiese kennis en idees te gaan uittoets in die praktyk sodat jy minder foute maak wat jy miskien liewer kon vermy wanneer dit jou eie klas is! Proef tydperk is tydelik maar jou eie klas het jy vir ‘n jaar lank, en dan wil jy nie sit met die gevolge van simple foute nie! So, as jy ‘n student is, daag ek jou uit en moedig ek jou aan om soveel moontlik idees, en teorieë NOU uit te toets!

 DIT IS LEKKER OM ‘N STUDENT TE WEES!!! 

 Ek het natuurlik vandag ‘n paar aspekte van “Whole Brain Teaching” uit getoets op die Graad 2’s by wie ek vanjaar proef. 

 2 Punte waarmee ek kan saamstem oor dit: 
1. Leerders is mal daaroor. 
2. Dit is effektief. 

Wenke vir die aanleer hiervan: 
1. Voor jy enigsins begin om dit bekend te stel moet jy eers met jou leerders praat oor hoe hulle ‘n eenheid is. Hulle is ‘n klomp kinders in die klas maar saam is hulle net EEN klas en hul sukses hang af van die HELE klas as ‘n geheel. Daarom is samewerking so belangrik.

2. Stel volgende die “scoreboard” bekend. Maak seker jy lê klem daarop dat die “oh-yeah!” en “ugh!” wat hulle uitroep nadat die “smiley” en “frownie” punte wen, kort en kragtig moet wees. Ek het agter gekom ek het ‘n paar “narre” in die klas wat die twee uitroepe uit rek en dan die ander se aandag daardeur probeer kry om hulle te laat lag. Dit is steurend en maak dat die hele tegniek skeef loop omdat jy die hele idee van ‘n eenheid verloor. Jy moet dadelik daaroor praat en hulle laat oefen hoe die regte manier is om dit te doen en hulle weereens herinner dat elke keer wat hulle probeer snaaks wees, breek hulle die reels en maak hulle dat almal in die klas daaronder moet ly.

3.Daar moet ‘n prys wees waarnatoe die leerders werk. Die “scoreboard game” alleen is nie genoeg aanmoediging nie. Ek het gedink ek kan probeer om hulle te motiveer deur net te se hulle moet probeer dat die “smiley” (ons noem dit “Meneer Glimlag”) wen. Maar na vandag het ek besef dit is nie genoeg aanmoediging nie.

Hoe om die probleme op te los
1. Vir die leerders wat probeer snaaks wees, gaan ek later hul eie kolom trek en vir die klas noem dat daar sekere leerders is wie nie deel van die klas wil wees nie en veroorsaak dat die klas “frownies” kry. Hierdie kinders gaan nou hul eie kolom kry en op hul eie speel vir “Smilies” en “Frownies”. Die kolom gaan jy “die ander groep” noem want hulle wil mos nie deel wees van die klas nie. As enige een van hulle, hulself goed gedra kan hulle positiewe punte kry, maar as enige een van hulle hulself nie gedra nie, kry hul ‘n negatiewe punt. Maar hulle “Frownie” werk anders as die klas sin, want sodra hulle ‘n punt (jy kan die telling aanpas) in die frownie kry, dan moet hulle inbly vir pouse (jy kan die straf ook aanpas). Jy as juffrou sal mos seker maak dat hulle geen “Simlies” kry nie, anders sal die tegniek nie werk nie. Sê dan dat jy vir hulle in pouse sal sê wie hulle is. In pouse verduidelik jy dan vir hulle dat hulle enige tyd uit die groep kan stap en weer deel kan raak van die klas as hulle besluit hulle gaan saamwerk. Hulle moet dit net vir jou persoonlik kom sê. Op hierdie manier leer hierdie leerders ‘n baie belangrike lewensles, dat al is hulle nie skuldig nie, hulle negatiewe gevolge sal moet dra as hulle deel is van die verkeerde groep of mense. Dit ontmoedig ook daardie leerders om te probeer snaaks wees en die klas te onderbreek in ‘n negatiewe manier. 

2. Om die “scoreboard” meer effektief te maak gaan ek elke keer wat die “smiley” wen ‘n plakker plak op ‘n aparte plakkaat wat ek gaan noem “Meneer Glimlag se spogkaart.” Wanneer die leerders 10 plakkers kry, kan hulle ‘n prys kry (enige iets wat vooraf bespreek word). So ook gaan ek ‘n plakkaat maak met “Fronsman se jammerkaart”. As die “frownie” wen dan plak ons ‘n plakker op sy plakkaat. Wanner fronsman 10 plakkers het word die klas gestraf (ook iets wat vooraf bespreek word). 

 Ek sal dit nou gaan uittoets dan gee ek verder terugvoering oor hoe dit werk.

As jy ‘n proefstudent is, dan hoop ek jy geniet jou proeftydperk. Dit gaan ook tog so gou verby!

Woensdag 17 Junie 2015

Hoe kan ons optel?

Wiskunde Plakkate!

Ek is besig om plakkate te maak vir my klas volgende jaar en het op 'n baie oulike idee afgekom op hierdie blog" Learning Adventures with Mrs. Gerlach"

Ek hou baie van haar strategiee vir optel en daarom het ek dit vertaal vir my Afrikaanse klas.
Jy kan jou eie hier aflaai.

Hoe gebruik ek dit?

  1. Print al die bladsye apart.
  2. Lamineer om dit te versterk.
  3. Plak dit op jou wiskunde muur vir uitstalling soos hieronder vertoon of nes jy lus is.
Soos vertoon op "Learning Adventures with Mrs. Gerlach"


"Whole Brain Teaching"

Ek het onlangs op hierdie video afgekom van 'n juffrou wat sekere aspekte van "Whole Brain Teaching" in haar klaskamer inwerk.


Ek was verstom oor hoe lekker interaktief die leerders is met die eenvoudige lessie en dit het gemaak dat ek verder gaan ondersoek instel het oor hierdie "Whole Brain Teaching".

10 Dinge wat ek opgelet het:

  1. Die onderwyser vra die leerders of hulle al iets weet van die onderwerp (dit help haar om vas te stel hoe baie sy moet aandag gee daaraan)
  2. Sy noem die doelwitte van die les vir die graad sodat die leerders bewus kan wees daarvan.
  3. "Teach-ok" - die leerders kry geleentheid om aan 'n maat te verduidelik wat hulle reeds weet oor die onderwerp. Die onderwyser is nie die enigste een met al die kennis nie.
  4. "Class-yes" - die onderwyser kry die leerders se aandag vreeslik vinnig weer terug op haar en hulle sit stil en luister terwyl sy praat.
  5. Die klas is soos 'n span, hulle is bly saam en hartseer saam. Elkeen in die klas dra by tot die sukses van die span.
  6. "Scoreboard"- die klas verdien as 'n span punte en nie as individue nie. Dit beteken dat almal verantwoordelik voel om by te dra tot die sukses.
  7. Die leerders kry geleentheid om terugvoering te gee oor hulle besprekings met mekaar en kry so ook die geleentheid om hul denke verbaal uit te druk.
  8. "Ten-finger whoo"- die hele klas wens een van hulle lede geluk met 'n goeie antwoord.
  9. "Blow it in your hand" - soms is daar 'n antwoord wat almal weet en almal gelyk wil uitskree maar dan moet jy ongelukkig net een leerder kies. Hierdie manier is fantasties om al jou leerders die kans te gee om te antwoord op 'n georganiseerde manier.
  10. Die leerders werk ongelooflik goed saam met mekaar en met die onderwyser.

5 Dinge wat ek geleer het oor "Whole Brain Teaching":

1. Daar is 'n "scoreboard" wat die onderwyser gebruik as 'n geheel klas motiveerder. Die onderwyser trek 'n lyntjie onder die glimlag-gesiggie as die leerders goed saamwerk, haar reels volg, of haar verstom met 'n goeie antwoord of idee. Wanneer sy 'n lyntjie onder die glimlag-gesiggie trek moet die hele klas "Oh-yeah!" skree. Die onderwyser kan ook 'n lyntjie trek onder die kwaai-gesiggie as die leerders nie goed saamwerk, hulle nie vir haar luister of hulle nie positief optree nie. Wanneer sy dit doen moet die hele klas 'n groot "UGH!" skree.

Klik hier om meer te lees oor die "scoreboard"

2.  "Class-yes": Onderwysers se "klas!" op enige stemtoon en soveel keer hul wil. Die leerders moet dan antwoord met "Ja!" op dieselfde manier wat die onderwyser dit gese het. Hierdie tegniek werk wonders om leerders se aandag te kry.

Klik hier om meer te lees oor "Class-yes!"

3."Teach-ok": Onderwysers se "deel!" op enige stemtoon en met enige gebaar daarby. Die leerders antwoord dan met "ok!" op dieselfde wyse as wat die onderwyser dit gese het en met dieselfde gebare wat hulle as 'n spieelbeeld namaak. Die leerders kry dan geleentheid om hulle eie idees en dit wat hulle reeds weet, met 'n maat te deel.

Klik hier om meer te lees oor "teach-ok!"

4. Die hele idee van "Whole Brain Teaching" is gebasseer op die "mirror". Dit beteken dat leerders dinge naboots of se net soos wat jy dit gese het (soos met die "teach-ok" en "class-yes"). Onderwysers kan selfs belangrike inligting deurgee deurdat leerders haar woorde en aksies moet naboots.

Klik hier om meer te lees oor "mirror".
Kyk ook die video vir 'n beter begrip oor wat "mirror" beteken.



5. "Switch!"- die onderwyser kan enige tyd gedurende die bespreking van "teach-ok!" die woord "Switch" skree wat beteken dat die maatjie wat gepraat het nou moet luister vir die maatjie wat geluister het. Dit verseker dat elke leerder 'n kans kry om te praat en dat die skaam leerders gemotiveer word om te deel en nie net te luister nie.

Klik hier om meer te lees oor "switch!".

Alhoewel ek nie elke aspek van dit in my klaskamer sal inwerk nie, is daar so baie wat ek wel sal wil gebruik.

Klik hier om meer te lees oor "Whole Brain Teaching".

Hoe gebruik mens dit in 'n Afrikaanse klas?

Ek gaan dit nou probeer in my finalejaar prakties en dan terugvoering gee oor hoe dit gewerk het maar vir nou sou ek se:

  1. "Class-yes!" - Klas-ja/ Maats-ja/ Graad 1s,(2s),(3s)-ja(juffrou)
  2. "Hands and eyes"/"Eyes up here" - Ogies en handjies/ Hande en oe /Alle oe by my(juffrou)
  3. "Teach-ok" - Deel-ok,/ Onderrig-ok,/ Bespreek-ok
  4. "Switch!" - skakel om!/ Ruil!/ Volgende!
  5. "Ten finger whoo!" - Tien vinger whoo
  6. "Blow it in your hand - release" - Blaas dit in jou hand! - laat los!




Maandag 15 Junie 2015

Om wiskunde te verstaan

Wat is die doel van wiskunde onderrig in die grondslagfase as ons kinders nie leer om te dink en te redeneer nie?
Ek glo vas in die probleem-gesentreerde benadering tot wiskunde onderrig omdat dit leerders met die vaardighede beskik om wiskunde te verstaan en daaroor te kan reflekteer.

Wat is die probleem-gesentreerde benadering?
  1. Dit is 'n benadering wat leerders leer om te dink en nie net te memoriseer nie.
  2. Dit gee leerders die geleentheid om probleme op te los op hulle eie manier wat vir hulle sin maak.
  3. Die onderwyser neem 'n stappie terug en speel die rol van 'n fasiliteerder liewer as die persoon met al die kennis en gesag.
  4. Dit gee leerders selfvertroue, 'n lus om te probeer en maak hulle minder bang om foute te maak.
  5. Die fokus is nie op die wiskunde antwoorde nie maar op die proses waardeur leerders gaan om bewerkings te verstaan en te vorder.
Waarom moet leerders hul eie strategiee gebruik om probleme op te los?
  1. As onderwysers 'n metode verduidelik verskaf dit net oppervlakkige begrip en die kennis wat leerders vorm is dikwels baie anders as wat onderwysers in gedagte gehad het om deur te gee.
  2. Leerders vorm metodes en strategiee waarmee hulle gemaklik kan werk en hulle eie begrip van die konsepte kan vorm.
  3. Dit veroorsaak dat leerders minder onnodige foute maak en minder vas brand.
  4. Leerders kry ook meer selfvertroue om met wiskundige probleme om te gaan as hulle dit kan doen op 'n manier wat vir hulle sin maak.
  5. Leerders kan enige probleem oplos en is nie afhanklik van 'n gememoriseerde "resep" wat vir hulle in staat stel om dit te doen nie. 
  6. Leerders hak nie vas as die probleem anders lyk en klink as waaraan hulle gewoond is nie omdat hulle die selfvertroue het om dit op te los en nie bang is om foute te maak nie



Graad 2 Temas

Die KABV temas vir graad 2 is soos volg.

Graad 2: Kwartaal 1

  • Wat het ons nodig om te leef? (4 ure)
  • Ek en ander (4ure)
  • Almal is spesiaal (6 ure)
  • Gesonde leefwyse (4 ure)
  • Godsdienstige en ander spesiale dae (2ure)
Graad 2: Kwartaal 2
  • Seisoene (6 ure)
  • Diere (4 ure)
  • Diere en kreature wat in water leef (4 ure)
  • Diere skuilings (4 ure)
  • Godsdienstige en ander spesiale dae (2 ure)
Graad 2: Kwartaal 3
  • Grond (4 ure)
  • Vervoer (6 ure)
  • Padveiligheid (4 ure)
  • Mense wat ons help (4 ure)
  • Godsdienstige en ander spesiale dae (2ure)
Graad 2: Kwartaal 4
  • Ons land (4 ure)
  • Maniere waarop ons kommunikeer (6 ure)
  • Naglewe (6 ure)
  • Godsdienstige en ander spesiale dae (2 ure)

Lees meer oor die temas in die KABV.
Klik hier  om die KABV vir Lewensvaardighede in die grondslagfase af te laai (enige taal)

Vrydag 12 Junie 2015

Wat is Geletterdheid?


Taal is die sisteem wat gebruik word om boodskappe oor te dra. Om daardie taal oor te sit in simbole, om dit verbaal uit te druk en om dit te verstaan word dus gesien as geletterdheid.
Geletterdheid kan wel nie beperk word tot die funksionele toepassing van 'n groep vaardighede nie. Dit behels ook kennis en begrip van die impak van geletterdheid op die individu en die breër samelewing asook die vermoë om daaroor te reflekteer en te kritiseer.




Hoekom is taal en geletterdheid onderrig so belangrik?

1. Taal laat mens toe om jou gedagtes verbaal uit te druk.
2. Geletterdheid laat mens toe om jouself gesproke en geskrewe meer duideliker uit te druk.
3. Dit laat leerders toe om betrokke te raak by klas besprekings wat hulle kognitiewe denke verder ontwikkel.
4. Hoe beter 'n leerder se geletterdheid, hoe moontliker vir die leerder om meer te leer en te ontwikkel in alle leerareas.
5. Goeie geletterdheid bevorder leerders se selfvertroue in alle aspekte.

Taalvaardighede wat betrokke is by effektiewe geletterdheidsontwikkeling:

1. Luister 
2. Praat
3. Redeneer
4. Dink
5. Klankleer
6. Woordbou
7.Handskrif
8.Kreatiewe skryf
9.Taalstruktuur en gebruik
10. Lees

Daar is vier stadiums van Geletterdheidontwikkeling:

1. Ontluikende Geletterdheid (Gr. R)
2. Aanvangsgeletterdheid (Gr.1)
3. Transisie-stadium (Gr.2)
4. Vaardigheid-stadium (Gr.3)

In die Grondslagfase is dit die doel van onderwysers om leerders van die ontluikende stadium na die vaardigheid-stadium te neem. Na Graad 3 begin leerders met meer ingewikkelde onderrig en dit is dus noodsaaklik dat leerders die vaardigheid-stadium teen die einde van graad 3 bereik. Dit voorsien leerders met 'n stewige geletterdheidsfondament waarop hulle dan verder kan bou. Hoe stewiger daardie fondament, hoe beter kan die leerder vorder in sy skoolloopbaan.


Dis daarom dus dat hierdie blad oor alles gaan handel wat gebruik kan word om geletterdheid te bevorder in die grondslagfase en dit ook makliker te maak vir Afrikaanse ouers en onderwysers.